Elmé Jacobs
elme

ELMÉ JACOBS

rooiwyn en liefde

Harde werk en toewyding lei tot die bekendstelling van Rooiwyn en liefde, Elmé Jacobs Churr se debuut album. Die nuwe talent uit Pretoria verwesenlik ‘n jarelange droom.

Die album Rooiwyn en liefde is ʼn versameling van dertien liedjies waarvan tien deur Elmé self gepen is. Die album bevat lekkerluister pretliedjies wat die luisteraar in ‘n japtrap laat saamsing. ‘n Effe meer ernstige kant van Elmé is te hore in die rustige weergawe van Anneli van Rooyen se Neem my op vlerke, asook Stille waters, die laaste snit op die album.

 

Elmé vertel “Ek sing seker al vandat ek drie jaar oud is, soos my Ma sê ek’t gesing voor ek kon praat. My hele lewe lank is ek betrokke by een of ander vorm van vermaak, en dis vir my as mens bitter belangrik om ander mense te sien lag en gelukkigwees. Musiek gee my nou die ideale platform om geluk en liefde uit te druk.” Elmé is inderdaad haar hele lewe lank in die musiek omgewing en sy onthou hoe haar pa altyd op Sondae vir hulle orrel gespeel het.

Elmé is op Kempton Park gebore, en het na ‘n paar trekslae finaal in Pretoria wortel geskiet. “Op skool was ek altyd deel van die revue groepe en het dit geweldig geniet. Hoewel ek redelik erg in sport betrokke was, was die revue altyd vir my ‘n hoogtepunt. Na skool het sy die kwalifikasie “Musical Theater” in 2007 by die TUT Universiteit verwerf, waarna sy amper dadelik opgeneem is as deel van Barnyard se vermaaklikheids groep. Met Barnyard het sy baie gereis met verhoog optredes soos “Hot Chocolate” – 2009, “Dancing Queen”- 2009-2010, “Super Troopers” – 2010-2011, “Thank you for the music” – 2014, en “Bonfire hearts” – 2015. Sy het ook al opgetree in Zanzibar en Hong Kong.

Die album is saamgestel uit liedjies wat uit haar hart kom, stories van dinge en mense wat haar na aan die hart lê. “Die titelsnit Rooiwyn en liefde gaan vir my oor ‘n “wholesome” lewe, die saamwees, die lekkerte om te deel, vriendskap. Dit weerspieël ook vir my die deurlopende album tema, wat liefde is.” Die album het ‘n lang aanloop en is vir Elmé ‘n groot mylpaal wat sy al lank na koester. “Een van my pryse toe ek die 2014 Windpompfees gewen het, was die professionele opname van ‘n liedjie asook ‘n musiek video. Hierdie liedjie Jy is alles is ook op my debuut album ingesluit. Ek is mal oor die video, ek het nooit besef hoeveel werk in ‘n video produksie ingaan nie. Ons was al vroeg oggend doenig en het eers na sononder “gewrap”. Die Windpompfees pryse het die ding vir my aan die rol gesit”

Die album staan ook uit vir die feit dat tien uit die dertien snitte deur Elmé gekomponeer is. “Elke liewe liedjie kom reguit uit my hart uit. Elkeen is verhalend en in grotendeels gebaseer op ware gebeure in my lewe. Om een of twee uit te sonder is vir my moeilik. Byvoorbeeld Vir ewig, altyd, nou gaan oor ‘n paartjie wat die pad al lank saamstap, en die meisie voel haar voorkoms is nie meer wat dit was toe hulle jonger was nie, maar die ou is steeds lief vir haar net soos toe hulle jonk was en dat hy altyd by haar sal staan.” Die snit Heimwee dra Elmé op aan haar ouer suster wat as eerste kind altyd die “punch” moes vat en dinge makliker vir Elmé gemaak het! En die tassie wat sy pak om na Ouma toe te gaan? “Dis waar hoor, ek’t altyd vir my Ma gesê ek gaan ‘n tassie pak en na Ouma toe trek. En noudie dag vra my Ma my na al die jare of ek ooit iets in die tassie gehad het, en ja ek het, so ‘n sagte lappie waaroor ek mal was! Onthou ek was toe maar net drie jaar oud.” lag sy.

Elmé is nie net musikant nie, maar is ook ‘n kranige selfdoener, soos in “DIY”. Een van haar lekkerste wegkruipplekke is agter ‘n saag of ‘n skaaf waneer sy doenig is met ‘n nuwe pallethout werkstuk. Soos op skool is sy steeds erg bedrywig met sport in die vorm van cross-fit oefenige. Verder geniet sy die buitelewe, kuier met vriende, en diere.

Die opnames en vervaardiging is behartig deur Tertius Human, wat spog met vyf Ghoema 2017 benoemings, by VPH Studios. Elmé vertel “Ek het die opname avontuur soveel geniet. Omdat ek reeds jare lank in die vermaaklikheidswêreld is was ek nuuskierig om te sien hoe die studio ding werk. Dit was fantasties en ek het met van die beste kunstenaars in die bedryf gewerk. Wat ek veral geniet het was die feit dat almal bygedra het tot die album, gegewe sy of haar musikale spesialiteit. Ek het soveel geleer. Ook Herman Kleynhans, lid van die groep TWEE en wenner van die 2015 KykNet Afri-Visie kompetisie, het bygestaan met die skryfwerk. Hoewel sy hulp meer met afronding as met eintlike skryfwerk te make gehad het was dit “amazing” om ook saam met hom te werk. Ek moet byvoeg dat ek die heeltyd koffie gegooi het want ek werk op my beste met ‘n pot swart koffie naby my, om nie van die borde vol supermark kos te praat nie! VPH Studios sal seker nooit weer dieselfde wees nie.”